Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:33-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

33. Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste aanmekaargesluit en deurgetrek en in die laagte van Jísreël laer opgeslaan.

34. En die Gees van die Here het Gídeon vervul; en hy het op die ramshoring geblaas, en die Abiësriete is agter hom aan opgeroep.

35. Ook het hy boodskappers gestuur in die hele Manasse, en dié is ook agter hom aan opgeroep; ook het hy boodskappers gestuur in Aser en in Sébulon en in Náftali, en hulle het opgetrek, hulle tegemoet.

36. Toe het Gídeon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het —

37. ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het.

38. En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies uitgewring en die dou uit die vlies uitgedruk, ’n kom vol water.

39. Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ’n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is.

40. En die Here het daardie nag so gedoen: op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6