Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:28-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, lê die altaar van Baäl daar omgegooi en die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap en die tweede bul geoffer op die altaar wat daar gebou was!

29. Toe sê hulle, die een vir die ander: Wie het hierdie ding gedoen? En onderwyl hulle ondersoek en uitvra, sê hulle: Gídeon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen!

30. Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, hy moet sterwe, omdat hy die altaar van Baäl omgegooi het, en omdat hy die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap het.

31. Maar Joas sê vir almal wat by hom staan: Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy ’n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.

32. Daarom het hy hom op dié dag Jerúbbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.

33. Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste aanmekaargesluit en deurgetrek en in die laagte van Jísreël laer opgeslaan.

34. En die Gees van die Here het Gídeon vervul; en hy het op die ramshoring geblaas, en die Abiësriete is agter hom aan opgeroep.

35. Ook het hy boodskappers gestuur in die hele Manasse, en dié is ook agter hom aan opgeroep; ook het hy boodskappers gestuur in Aser en in Sébulon en in Náftali, en hulle het opgetrek, hulle tegemoet.

36. Toe het Gídeon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het —

37. ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het.

38. En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies uitgewring en die dou uit die vlies uitgedruk, ’n kom vol water.

39. Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ’n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is.

40. En die Here het daardie nag so gedoen: op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6