Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:12-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te sê: Wat vir ’n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is?

13. Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na hulle broers, die kinders van Israel, luister nie;

14. maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe, om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel.

15. En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewehonderd uitgesoekte manne.

16. Uit al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met ’n klip op ’n haar geslinger sonder om te mis.

17. En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vierhonderdduisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne.

18. En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die kinders van Benjamin? Toe sê die Here: Juda eerste.

19. Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea.

20. En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20