Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:5-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Maar terwyl hulle op die vierde dag vroeg in die môre opstaan en hy klaarmaak om weg te gaan, sê die vader van die jong vrou vir sy skoonseun: Versterk jou hart met ’n stukkie brood, en daarna kan julle weggaan.

6. En hulle het gebly, en hulle twee het saam geëet en gedrink. Daarop sê die vader van die jong vrou aan die man: Bly tog asseblief die nag oor, en laat jou hart vrolik wees.

7. Toe die man egter klaarmaak om weg te gaan, het sy skoonvader by hom aangedring, sodat hy weer die nag daar oorgebly het.

8. Terwyl hy op die vyfde dag vroeg in die môre klaarmaak om weg te gaan, sê die vader van die jong vrou: Versterk jou hart tog, en vertoef julle tot agtermiddag. En hulle twee het geëet.

9. Maar toe die man klaarmaak om weg te gaan, hy en sy byvrou en sy dienaar, sê sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: Kyk, die son sak, dit wil aand word; bly julle maar die nag oor: kyk, dit is al laat, bly die nag hier oor, en laat jou hart vrolik wees; dan kan julle môre vroeg klaarmaak vir julle reis en na jou tente toe gaan.

10. Maar die man wou nie die nag oorbly nie en het klaargemaak en weggetrek en gekom tot teenoor Jebus — dit is Jerusalem — met ’n paar opgesaalde esels by hom; ook sy byvrou was by hom.

11. En toe hulle by Jebus kom en die son al baie gesak het, sê die dienaar aan sy heer: Kom tog, laat ons uitdraai na hierdie stad van die Jebusiete en daarin vernag.

Lees volledige hoofstuk Rigters 19