Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:16-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Maar kyk, in die aand kom daar ’n ou man uit die veld van sy werk af, en die man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.

17. En toe hy sy oë opslaan, sien hy die reisiger op die plein van die stad, en die ou man vra: Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?

18. En hy sê vir hom: Ons trek deur van Betlehem-Juda tot agter in die gebergte van Efraim; ek kom daarvandaan en het tot by Betlehem-Juda gereis, en ek gaan na die huis van die Here; maar hier is niemand wat my in sy huis opneem nie,

19. alhoewel ons esels strooi sowel as voer het, en daar ook brood en wyn is vir myself en vir u dienares en vir die bediende wat by u dienaars is; daar is aan geen ding gebrek nie.

20. Toe sê die ou man: Vrede vir jou! alleenlik, al wat u kortkom, is vir my rekening; u moet net nie op die plein vernag nie.

21. Daarop het hy hom in sy huis ingebring en aan die esels voer gegee; en nadat hulle hul voete gewas het, het hulle geëet en gedrink.

22. Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte manne, meteens die huis en klop hard aan die deur; en hulle spreek met die ou man, die eienaar van die huis, en sê: Bring die man uit wat in jou huis ingekom het, dat ons hom kan beken.

23. Daarop gaan die man, die eienaar van die huis, uit na hulle en sê aan hulle: Nee, my broers, moet tog nie kwaad doen nie, aangesien hierdie man in my huis ingekom het; moet nie hierdie skanddaad begaan nie.

24. Hier is my dogter wat ’n jongmeisie is, en sy byvrou; laat ek hulle uitbring, onteer hulle dan en maak met hulle wat goed is in julle oë, maar aan hierdie man mag julle so ’n skanddaad nie begaan nie.

25. Toe die manne nie na hom wou luister nie, gryp die man sy byvrou en bring haar uit na hulle daarbuite; en hulle het haar beken en die hele nag deur haar mishandel, tot die môre toe, en haar laat loop toe die rooidag uitkom.

26. En teen dagbreek het die vrou gekom en neergeval voor die ingang van die man se huis waar haar heer was, totdat dit lig was.

27. En toe haar heer die môre opstaan en die huisdeure oopmaak en uitgaan om sy reis voort te sit — kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, voor die ingang van die huis met haar hande op die drumpel.

28. En hy sê vir haar: Staan op en laat ons trek; maar niemand antwoord nie. Daarop het hy haar op die esel gelaai, en die man het klaargemaak en na sy woonplek getrek.

29. Maar toe hy in sy huis kom, het hy ’n mes geneem en sy byvrou gegryp en haar stukkend gesny volgens haar gebeente in twaalf stukke en dit in die hele grondgebied van Israel rondgestuur.

30. En elkeen wat dit sien, het gesê: So iets het nie gebeur en is nie gesien van die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe nie; neem dit tog ter harte, gee raad en spreek!

Lees volledige hoofstuk Rigters 19