Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:12-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Maar sy heer sê aan hom: Ons kan nie uitdraai na ’n vreemde stad waar nie van die kinders van Israel is nie, maar ons moet verbytrek tot by Gíbea.

13. Verder sê hy aan sy dienaar: Trek, laat ons nader kom by een van die plekke en in Gíbea of Rama vernag.

14. So het hulle dan verder verbygetrek; en die son het vir hulle ondergegaan by Gíbea wat aan Benjamin behoort.

15. Toe draai hulle daar uit om in Gíbea te gaan vernag. En hy het ingekom en gebly op die plein van die stad, want daar was niemand wat hulle in sy huis opgeneem het om te vernag nie.

16. Maar kyk, in die aand kom daar ’n ou man uit die veld van sy werk af, en die man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.

17. En toe hy sy oë opslaan, sien hy die reisiger op die plein van die stad, en die ou man vra: Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?

18. En hy sê vir hom: Ons trek deur van Betlehem-Juda tot agter in die gebergte van Efraim; ek kom daarvandaan en het tot by Betlehem-Juda gereis, en ek gaan na die huis van die Here; maar hier is niemand wat my in sy huis opneem nie,

19. alhoewel ons esels strooi sowel as voer het, en daar ook brood en wyn is vir myself en vir u dienares en vir die bediende wat by u dienaars is; daar is aan geen ding gebrek nie.

20. Toe sê die ou man: Vrede vir jou! alleenlik, al wat u kortkom, is vir my rekening; u moet net nie op die plein vernag nie.

21. Daarop het hy hom in sy huis ingebring en aan die esels voer gegee; en nadat hulle hul voete gewas het, het hulle geëet en gedrink.

22. Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte manne, meteens die huis en klop hard aan die deur; en hulle spreek met die ou man, die eienaar van die huis, en sê: Bring die man uit wat in jou huis ingekom het, dat ons hom kan beken.

23. Daarop gaan die man, die eienaar van die huis, uit na hulle en sê aan hulle: Nee, my broers, moet tog nie kwaad doen nie, aangesien hierdie man in my huis ingekom het; moet nie hierdie skanddaad begaan nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 19