Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 13:9-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog ’n keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by haar was nie.

10. En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het.

11. Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja.

12. Daarop vra Manóag: As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees?

13. Toe sê die Engel van die Here aan Manóag: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het, moet sy haar in ag neem.

14. Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou.

15. Manóag sê aan die Engel van die Here: Laat ons U tog ophou, dat ons ’n bokkie vir U kan berei.

16. En die Engel van die Here antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy ’n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die Here. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die Here was nie.

17. Daarop vra Manóag die Engel van die Here: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom?

18. En die Engel van die Here sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?

19. Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die Here terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou:

20. toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die Here in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.

21. En die Engel van die Here het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die Here was.

22. En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 13