Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:15-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie.

16. Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom.

17. En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly.

18. Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon is die grens van Moab.

19. Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe.

20. Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg.

21. Maar die Here, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.

22. En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.

23. So het die Here, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem?

24. Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as ’n besitting gee, en óns alles wat die Here onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?

25. En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?

26. Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Ároër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, driehonderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?

27. So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die Here, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon!

28. Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie.

29. Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy deurgetrek na die kinders van Ammon.

30. En Jefta het aan die Here ’n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee,

31. dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ’n brandoffer bring.

32. Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy hand gegee.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11