Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:19-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En die Here was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.

20. En hulle het Hebron aan Kaleb gegee, soos Moses gespreek het; en hy het die drie seuns van Enak daaruit verdrywe.

21. En die kinders van Benjamin het die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdrywe nie, sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in Jerusalem woon tot vandag toe.

22. En die huis van Josef, hulle het ook opgetrek na Bet-el, en die Here was met hulle.

23. En toe die huis van Josef Bet-el laat bespied — maar die naam van die stad was tevore Lus —

24. sien die spioene ’n man uit die stad uitkom, en hulle sê vir hom: Wys ons tog ’n plek om in die stad in te kom, dan sal ons jou ’n guns bewys.

25. Hy wys hulle toe ’n plek om in die stad in te kom; en hulle het die stad verslaan met die skerpte van die swaard; maar die man en sy hele geslag het hulle laat gaan.

26. En die man het weggetrek na die land van die Hetiete, en hy het ’n stad gebou en dit Lus genoem; dit is sy naam tot vandag toe.

27. En Manasse het Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke nie verdrywe nie; en die Kanaäniete het verkies om in hierdie land te bly woon.

28. Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie.

29. En Efraim het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde in Geser bly woon het.

30. Sébulon het die inwoners van Kitron en die inwoners van Náhalol nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde bly woon het; maar hulle het dienspligtig geword.

31. Aser het die inwoners van Akko en die inwoners van Sidon en Aglab en Agsib en Helba en Afik en Rehob nie verdrywe nie;

32. sodat die Aseriete bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land, want hulle het hulle nie verdrywe nie.

33. Náftali het die inwoners van Bet-Semes en die inwoners van Bet-Anat nie verdrywe nie, sodat hy bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land; maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat het aan hulle dienspligtig geword.

34. En die Amoriete het die kinders van Dan die gebergte in gedruk, want hulle het hul nie toegelaat om na die laagte af te kom nie;

35. sodat die Amoriete verkies het om te bly woon in Har-Heres, in Ájalon en in Saälbim; maar die hand van die huis van Josef was swaar, sodat hulle dienspligtig geword het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1