Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:14-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En toe sy aankom, het sy hom aangespoor om van haar vader ’n stuk grond te vra; en toe sy van die esel afklim, sê Kaleb vir haar: Wat wil jy hê?

15. En sy sê vir hom: Gee my tog ’n geskenk; omdat u my na ’n dor land versit het, moet u my waterfonteine gee. Toe gee Kaleb haar fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte.

16. En die kinders van die Keniet, die swaer van Moses, het saam met die kinders van Juda opgetrek uit die Palmstad na die woestyn van Juda wat in die suide van Arad lê; en hy het heengegaan en met die volk saamgewoon.

17. En Juda het saam met sy broer Símeon getrek, en hulle het die Kanaäniete verslaan wat in Sefat gewoon het en dit met die banvloek getref; daarom noem hulle die stad Horma.

18. En Juda het Gasa met sy grondgebied en Áskelon met sy grondgebied en Ekron met sy grondgebied ingeneem.

19. En die Here was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.

20. En hulle het Hebron aan Kaleb gegee, soos Moses gespreek het; en hy het die drie seuns van Enak daaruit verdrywe.

21. En die kinders van Benjamin het die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdrywe nie, sodat die Jebusiete saam met die kinders van Benjamin in Jerusalem woon tot vandag toe.

22. En die huis van Josef, hulle het ook opgetrek na Bet-el, en die Here was met hulle.

23. En toe die huis van Josef Bet-el laat bespied — maar die naam van die stad was tevore Lus —

24. sien die spioene ’n man uit die stad uitkom, en hulle sê vir hom: Wys ons tog ’n plek om in die stad in te kom, dan sal ons jou ’n guns bewys.

25. Hy wys hulle toe ’n plek om in die stad in te kom; en hulle het die stad verslaan met die skerpte van die swaard; maar die man en sy hele geslag het hulle laat gaan.

26. En die man het weggetrek na die land van die Hetiete, en hy het ’n stad gebou en dit Lus genoem; dit is sy naam tot vandag toe.

27. En Manasse het Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke nie verdrywe nie; en die Kanaäniete het verkies om in hierdie land te bly woon.

28. Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1