Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 94:12-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Welgeluksalig is die man, o Here, wat U onderrig en wat U leer uit u wet,

13. om hom rus te gee van die dae van teëspoed, totdat die kuil vir die goddelose gegrawe word.

14. Want die Here sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie;

15. want die regspraak sal terugkeer tot geregtigheid, en al die opregtes van hart sal dit volg.

16. Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid?

17. As die Here vir my nie ’n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon.

18. As ek dink: My voet wankel — dan ondersteun u goedertierenheid my, o Here!

19. As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.

20. Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap; wat moeite versin teen die insettinge in?

21. Hulle bestorm die lewe van die regverdige en veroordeel onskuldige bloed.

22. Maar die Here is ’n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug.

23. En Hy laat hulle ongeregtigheid op hulle terugkeer en verdelg hulle in hul boosheid; die Here onse God verdelg hulle.

Lees volledige hoofstuk Psalms 94