Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 89:5-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.

6. En die hemele loof u wondermag, o Here, ook u trou in die vergadering van die heiliges.

7. Want wie kan in die hemel met die Here vergelyk word? Wie is soos die Here onder die hemelinge,

8. ’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?

9. o Here, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o Here, en u trou is rondom U!

10. Ú heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring Ú hulle tot bedaring.

11. Ú het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.

12. Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid — Ú het dit gegrond.

13. Die noorde en die suide — Ú het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.

14. U het ’n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.

15. Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.

16. Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o Here, hulle wandel in die lig van u aangesig.

17. In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.

18. Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.

19. Want aan die Here behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.

Lees volledige hoofstuk Psalms 89