1. ’n LIED. ’n Psalm van die kinders van Korag. Vir die musiekleier; op die wysie van: „Máhalat leannot.” ’n Onderwysing van Heman, die Esrahiet.
2. Here, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.
3. Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.
4. Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.
5. Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos ’n man sonder krag,
6. vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.
7. U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.