Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 88:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n LIED. ’n Psalm van die kinders van Korag. Vir die musiekleier; op die wysie van: „Máhalat leannot.” ’n Onderwysing van Heman, die Esrahiet.

2. Here, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.

3. Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.

4. Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.

5. Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos ’n man sonder krag,

6. vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.

7. U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.

8. U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela.

9. U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie.

10. My oog vergaan van ellende. Here, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit.

Lees volledige hoofstuk Psalms 88