Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 78:4-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

5. Hy tog het ’n getuienis opgerig in Jakob en ’n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het — om dit aan hulle kinders bekend te maak,

6. sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,

7. en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,

8. en nie word soos hulle vaders nie, ’n koppige en wederstrewige geslag, ’n geslag met ’n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.

9. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.

10. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

11. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.

12. Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan.

13. Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ’n wal.

14. En Hy het hulle bedags gelei met ’n wolk en die hele nag met ’n lig van vuur.

15. Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede.

16. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.

17. Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.

18. En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.

19. En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ’n tafel kan dek in die woestyn?

20. Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?

Lees volledige hoofstuk Psalms 78