Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 78:34-52 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek;

35. en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.

36. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;

37. maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.

38. Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.

39. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ’n wind wat weggaan en nie terugkom nie.

40. Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis;

41. en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.

42. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;

43. toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan.

44. En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.

45. Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het.

46. En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan.

47. Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp.

48. Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse.

49. Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ’n uitsending van ongeluksbodes.

50. Hy het ’n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee.

51. En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam.

52. Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos ’n kudde in die woestyn.

Lees volledige hoofstuk Psalms 78