Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 78:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n ONDERWYSING van Asaf.My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.

2. Ek wil my mond open met ’n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.

3. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,

4. sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

5. Hy tog het ’n getuienis opgerig in Jakob en ’n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het — om dit aan hulle kinders bekend te maak,

6. sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,

7. en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,

8. en nie word soos hulle vaders nie, ’n koppige en wederstrewige geslag, ’n geslag met ’n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.

9. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.

10. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

11. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.

12. Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan.

13. Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ’n wal.

Lees volledige hoofstuk Psalms 78