Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 77:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.

11. Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!

12. Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd

13. en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.

14. o God, u weg is in heiligheid. Wie is ’n groot God soos God?

15. U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.

16. U het u volk met ’n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela.

17. Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.

18. Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg.

19. U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.

20. U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie.

21. U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron.

Lees volledige hoofstuk Psalms 77