Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 77:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier; op die wysie van: „Jedútun.” ’n Psalm van Asaf.

2. My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister.

3. Op die dag van my benoudheid soek ek die Here; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word.

4. As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela.

5. U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie.

6. Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare.

7. Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors:

8. Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?

9. Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?

10. Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.

11. Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!

12. Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd

13. en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.

Lees volledige hoofstuk Psalms 77