7. Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.
8. Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.
9. Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.
10. Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?
11. Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!
12. Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde.
13. Ú het deur u sterkte die see geklief; Ú het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek.
14. Ú het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir ’n volk — vir woestyndiere.
15. Ú het fontein en stroom oopgeslaan; Ú het standhoudende riviere laat opdroog.
16. Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; Ú het hemelligte en son vasgestel.
17. Ú het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, Ú het hulle geformeer.
18. Dink hieraan: Die vyand het die Here gesmaad, en ’n dwase volk het u Naam verag.
19. Gee aan die wilde diere die siel van u tortelduif nie oor nie; vergeet nie vir altyd die lewe van u ellendiges nie.
20. Aanskou die verbond, want die donker plekke van die land is vol wonings van geweld.