Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 74:2-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het.

3. Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel.

4. U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel.

5. Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in ’n digte plek bome.

6. En nou — die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan.

7. Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.

8. Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.

9. Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.

10. Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?

11. Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!

12. Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde.

13. Ú het deur u sterkte die see geklief; Ú het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek.

14. Ú het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir ’n volk — vir woestyndiere.

Lees volledige hoofstuk Psalms 74