Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 71:8-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem.

9. Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.

10. Want my vyande praat van my, en die wat op my lewe loer, hou saam raad

11. en sê: God het hom verlaat; agtervolg en gryp hom, want daar is geen redder nie!

12. o God, wees nie ver van my af nie; my God, maak tog gou om my te help!

13. Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word; laat hulle wat my ongeluk soek, hulleself toedraai in smaad en skande.

14. Maar ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder.

15. My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie.

16. Ek sal kom met die magtige dade van die Here Here; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen.

17. o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders.

18. En ook tot die ouderdom en die grysheid toe — o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.

19. Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U?

20. U wat my baie en bange node laat sien het, sal my weer lewend maak en my weer ophaal uit die watervloede van die aarde.

21. Vermeerder my grootheid, en wend U om en troos my.

Lees volledige hoofstuk Psalms 71