Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 69:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, Here van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel!

8. Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig.

9. Vreemd het ek vir my broers geword en ’n onbekende vir die seuns van my moeder.

10. Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.

11. Wat my aangaan, my siel het geween met vas; maar dit het smaadhede vir my geword.

12. Ek het ook ’n rougewaad my kleding gemaak en vir hulle ’n spreekwoord geword.

13. Die wat in die poort sit, praat van my — ook die spotlied van die wat sterk drank drink.

14. Maar ek — my gebed is tot U, o Here: in die tyd van genade, o God, verhoor my deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u heil!

15. Red my uit die modder en laat my nie sink nie; laat my gered word van my haters en uit waterdieptes.

16. Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie!

17. Verhoor my, o Here, want u goedertierenheid is goed; wend U tot my na die grootheid van u barmhartighede.

18. En verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud. Verhoor my dan gou!

Lees volledige hoofstuk Psalms 69