Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 66:3-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Sê tot God: Hoe vreeslik is u werke! Deur die grootheid van u sterkte sal u vyande kruipende na U toe kom.

4. Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot u eer; laat dit u Naam verhef in psalmgesang. Sela.

5. Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders.

6. Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.

7. Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.

8. Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem —

9. wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.

10. Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ’n mens silwer louter.

11. U het ons in die net gebring, ’n swaar las op ons heupe gelê.

12. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.

13. Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,

14. wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.

Lees volledige hoofstuk Psalms 66