6. U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande.
7. U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer.
8. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.
9. Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.
10. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.
11. Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;
12. en as die Koning u skoonheid begeer — want Hy is u Heer — buig u dan voor Hom neer.
13. En, o dogter van Tirus — met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.
14. Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding.
15. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring.
16. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.
17. In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.
18. U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.