Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 45:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” Van die kinders van Korag. ’n Onderwysing. ’n Lied van die liefde.

2. My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ’n Koning; my tong is die pen van ’n vaardige skrywer.

3. U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig.

4. Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;

5. ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!

6. U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande.

7. U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer.

8. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.

9. Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.

10. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.

Lees volledige hoofstuk Psalms 45