Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 44:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob.

6. Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan.

7. Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie;

8. maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.

9. In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.

10. En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie.

11. U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus.

12. U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.

13. U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie.

14. U maak ons ’n smaad vir ons bure, ’n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.

15. U maak ons ’n spreekwoord onder die nasies, ’n hoofskudding onder die volke.

16. My skande is die hele dag voor my, en die skaamte van my aangesig oordek my;

17. weens die stem van die smader en lasteraar, weens die blik van die vyand en wraakgierige.

18. Dit alles het oor ons gekom, en tog het ons U nie vergeet en nie bedrieglik gehandel teen u verbond nie.

19. Ons hart het nie agteruitgewyk nie, en ons gange het van u pad nie afgebuig nie,

20. alhoewel U ons verbrysel het in ’n plek van jakkalse en ons met ’n doodskaduwee oordek.

Lees volledige hoofstuk Psalms 44