Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 37:18-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Jod. Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.

19. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.

20. Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die Here soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.

21. Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;

22. want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.

23. Mem. Deur die Here word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg.

24. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die Here ondersteun sy hand.

25. Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.

26. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is ’n seën.

27. Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;

28. want die Here het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.

29. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

30. Pe. Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.

31. Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.

32. Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak.

33. Die Here gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.

34. Kof. Wag op die Here en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.

Lees volledige hoofstuk Psalms 37