Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 37:16-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Tet. ’n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose;

17. want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die Here ondersteun die regverdiges.

18. Jod. Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.

19. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.

20. Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die Here soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.

21. Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;

22. want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.

23. Mem. Deur die Here word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg.

24. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die Here ondersteun sy hand.

25. Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.

26. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is ’n seën.

27. Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;

28. want die Here het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.

29. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

Lees volledige hoofstuk Psalms 37