Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 30:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n PSALM, ’n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid.

2. Ek sal U verhoog, Here, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie.

3. Here, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak.

4. Here, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.

5. Psalmsing tot eer van die Here, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam;

6. want ’n oomblik is daar in sy toorn, ’n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.

7. Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie.

8. Here, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg — ek het verskrik geword!

9. Ek het U aangeroep, Here, en ek het die Here gesmeek:

10. Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig?

11. Hoor, Here, en wees my genadig! Here, wees my ’n helper!

12. U het my weeklag vir my verander in ’n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord;

13. sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. Here, my God, vir ewig sal ek U loof.

Lees volledige hoofstuk Psalms 30