Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 18:11-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En Hy het op ’n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind.

12. Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.

13. Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.

14. En die Here het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole.

15. En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar.

16. En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o Here, vanweë die geblaas van die wind van u neus.

17. Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.

18. Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.

19. Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die Here was my steun.

20. En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.

21. Die Here het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.

22. Want ek het die weë van die Here gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie;

23. want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge het ek nie van my verwyder nie.

24. Maar ek was opreg by Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.

Lees volledige hoofstuk Psalms 18