Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 18:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid, die kneg van die Here, wat die woorde van hierdie lied tot die Here gespreek het op die dag toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.

2. En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.

3. Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.

4. Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.

5. Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval.

6. Bande van die doderyk was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom.

7. Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.

8. Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.

9. Rook in sy neus het opgegaan, en ’n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.

10. En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en donkerheid was onder sy voete.

11. En Hy het op ’n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind.

12. Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.

Lees volledige hoofstuk Psalms 18