Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 17:4-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy.

5. My gange het vasgehou aan u spore, my voetstappe het nie gewankel nie.

6. Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord!

7. Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!

8. Bewaar my soos ’n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels

9. teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring.

10. Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig.

11. Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek.

12. Hy is soos ’n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos ’n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê.

13. Staan op, Here, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard;

14. met u hand van die manne, o Here, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly.

15. Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.

Lees volledige hoofstuk Psalms 17