Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 140:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid.

2. Red my, Here, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld;

3. wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek.

4. Hulle maak hul tong skerp soos ’n slang; gif van ’n adder is onder hulle lippe. Sela.

5. Bewaar my, Here, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot.

6. Trotsaards het vir my ’n vangnet gespan en toue; hulle het ’n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela.

7. Ek het tot die Here gesê: U is my God; luister tog, Here, na die stem van my smekinge!

8. Here Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd!

9. Here, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela.

10. Wat betref die hoof van die wat my omring — laat die onheil van hulle lippe hulle oordek.

11. Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie!

Lees volledige hoofstuk Psalms 140