9. Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,
10. ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.
11. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,
12. dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.
13. Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
14. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
15. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
16. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
17. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
18. Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.
19. o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!