Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 139:1-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. Here, U deurgrond en ken my.

2. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.

3. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.

4. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, Here, U ken dit geheel en al.

5. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.

6. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

7. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?

8. Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!

9. Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,

10. ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

11. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,

12. dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.

13. Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.

14. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.

15. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.

16. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

17. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

18. Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.

19. o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!

20. Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef — u teëstanders!

Lees volledige hoofstuk Psalms 139