4. Al die konings van die aarde sal U loof, o Here, as hulle gehoor het die woorde van u mond;
5. en hulle sal sing van die weë van die Here, want die heerlikheid van die Here is groot.
6. Want die Here is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.
7. As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my.
8. Die Here sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, Here, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!