Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 119:36-53 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

36. Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.

37. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.

38. Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.

39. Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.

40. Gewis, ek het ’n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.

41. En laat u goedertierenhede oor my kom, o Here, u heil volgens u belofte,

42. sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.

43. En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.

44. Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,

45. en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.

46. Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.

47. En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,

48. en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.

49. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.

50. Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.

51. Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.

52. Ek het gedink, o Here, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.

53. Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.

Lees volledige hoofstuk Psalms 119