Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 104:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. LOOF die Here, o my siel! Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed —

2. wat Uself omhul met die lig soos met ’n kleed, wat die hemel uitspan soos ’n tentdoek;

3. wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,

4. wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.

5. Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.

6. U het dit met die wêreldvloed soos met ’n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.

7. Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik —

8. berge het opgerys, laagtes het weggesak — na die plek wat U vir hulle reggemaak het.

9. ’n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

10. Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.

11. Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.

12. By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.

13. Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.

14. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,

15. en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.

16. Die bome van die Here word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;

17. waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.

18. Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is ’n skuilplek vir die dasse.

19. Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.

Lees volledige hoofstuk Psalms 104