Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 7:18-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook van die ander jou hand nie aftrek nie; want die wat God vrees, ontkom aan dit alles.

19. Die wysheid versterk die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is;

20. want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.

21. Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie.

22. Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het.

23. Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel; ek het gesê: Ek wil wys word, maar dit het ver van my gebly.

24. Wat bestaan, is ver en baie diep; wie kan dit begryp?

25. Ek het my daartoe gewend en my hart gerig om te weet en na te speur, en wysheid en ’n slotsom te soek, en om so die goddeloosheid as dwaasheid en die dwaasheid as onverstandigheid te leer ken.

26. En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang.

27. Kyk, dit het ek uitgevind, sê die Prediker, deur die een by die ander te voeg, om ’n slotsom te vind —

28. wat my siel lank gesoek het, maar wat ek nie gevind het nie: een mens uit duisend het ek gevind, maar ’n vrou het ek onder soveel nie gevind nie.

29. Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.

Lees volledige hoofstuk Prediker 7