Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 4:6-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind.

7. En weer het ek ’n vergeefse moeite gesien onder die son:

8. Daar is een allenig sonder ’n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die goeie? Ook dit is tevergeefs en ’n verkeerde saak.

9. Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.

10. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.

11. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?

12. En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.

13. Beter is ’n behoeftige maar wyse jongman as ’n ou maar dwase koning wat nie meer weet om hom te laat waarsku nie.

14. Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word, alhoewel hy as ’n arme in die koninkryk van die ander gebore was.

15. Ek het gesien hoe al die lewendes wat onder die son wandel, aan die kant van die jongman was, van die tweede, wat sy opvolger sou word;

16. daar was geen einde aan al die mense, aan almal aan wie se hoof hy gestaan het nie. Tog sal die nageslag hulle nie oor hom verbly nie; so is dit ook tevergeefs en ’n gejaag na wind.

17. Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te hoor, is beter as dat dwase ’n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie, sodat hulle kwaad doen.

Lees volledige hoofstuk Prediker 4