Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 35:10-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek,

11. moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat ’n doodslag begaan het, een wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug.

12. En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat ’n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie.

13. En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien.

14. Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees.

15. Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het.

16. Maar as hy hom slaan met ’n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

17. En as hy hom slaan met ’n klip in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

18. Of as hy hom slaan met ’n houtvoorwerp in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy ’n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.

19. Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak; as hy hom kry, moet hy hom doodmaak.

20. En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe,

21. of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is ’n moordenaar; die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak as hy hom kry.

22. Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi;

23. of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe — as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie,

24. dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte.

25. En die vergadering moet hom wat ’n doodslag begaan het, red uit die hand van die bloedwreker, en die vergadering moet hom laat teruggaan na sy vrystad waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is.

26. Maar as hy wat ’n doodslag begaan het, ooit buitekant die grens van sy vrystad gaan waarheen hy moes vlug,

27. en die bloedwreker hom buitekant die grens van sy vrystad kry, en die bloedwreker hom doodslaan wat ’n doodslag begaan het, dan sal daar vir hom geen bloedskuld wees nie.

28. Want hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester mag die een wat ’n doodslag begaan het, teruggaan na die land waar sy besitting lê.

29. En dit moet vir julle ’n regsinsetting wees in julle geslagte, in al julle woonplekke.

Lees volledige hoofstuk Númeri 35