Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 32:25-41 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Toe het die kinders van Gad en die kinders van Ruben met Moses gespreek en gesê: U dienaars sal doen soos my heer beveel het.

26. Ons kinders, ons vroue, ons vee en al ons lasdiere sal daar in die stede van Gílead bly;

27. maar u dienaars, almal wat vir die oorlog gewapen is, sal voor die aangesig van die Here na die oorlog oortrek soos my heer gespreek het.

28. Toe het Moses aangaande hulle aan die priester Eleásar en aan Josua, die seun van Nun, en aan die familiehoofde uit die stamme van die kinders van Israel bevel gegee,

29. en Moses het aan hulle gesê: As die kinders van Gad en die kinders van Ruben saam met julle deur die Jordaan trek, almal wat vir die oorlog gewapen is, voor die aangesig van die Here, en die land voor julle uit onderwerp is, gee dan aan hulle die land Gílead as ’n besitting.

30. Maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle onder julle in die land Kanaän besittings verkry.

31. En die kinders van Gad en die kinders van Ruben het geantwoord en gesê: Wat die Here aan u dienaars gesê het, so sal ons doen.

32. Ons sal gewapend oortrek voor die aangesig van die Here na die land Kanaän, en ons erflike besitting oos van die Jordaan sal ons s’n wees.

33. So het Moses dan aan hulle gegee, aan die kinders van Gad en die kinders van Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, die koninkryk van Sihon, koning van die Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, die land volgens sy stede met die grondgebied wat daarby behoort, die stede van die land rondom.

34. En die kinders van Gad het Dibon gebou en Átarot en Ároër

35. en Áterot-Sofan en Jaéser en Jógbeha

36. en Bet-Nimra en Bet-Haran, versterkte stede en skaapkrale.

37. En die kinders van Ruben het Hesbon gebou en Eleále en Kirjatáim

38. en Nebo en Baäl-Méon — met verandering van die name — en Sibma; en hulle het die stede wat hulle gebou het, name gegee.

39. En die seuns van Magir, die seun van Manasse, het na Gílead gegaan en dit verower en die Amoriete verdrywe wat daarin was.

40. En Moses het Gílead aan Magir, die seun van Manasse, gegee; en hy het daarin gewoon.

41. En Jaïr, die seun van Manasse, het gegaan en hulle tentdorpe ingeneem en dit tentdorpe van Jaïr genoem.

Lees volledige hoofstuk Númeri 32