Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 31:3-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van die Here aan Mídian te voltrek.

4. Duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog stuur.

5. Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalfduisend wat vir die oorlog gewapen was.

6. En Moses het hulle na die oorlog gestuur, duisend vir elke stam, hulle en Pínehas, die seun van die priester Eleásar, na die oorlog, met die heilige voorwerpe en die trompette by hom om alarm te blaas.

7. En hulle het oorlog toe getrek teen Mídian, soos die Here Moses beveel het, en al die manlike persone gedood.

8. Ook het hulle die konings van Mídian gedood by die wat hulle verslaan het: Ewi en Rekem en Sur en Hur en Reba, die vyf konings van Mídian; ook het hulle Bíleam, die seun van Beor, met die swaard gedood.

9. Maar die kinders van Israel het die vroue van die Midianiete en hulle kinders as gevangenes weggevoer, en al hulle lasdiere en al hulle vee en al hulle rykdom geroof.

10. Verder, al hulle stede in hulle woonplekke en al hulle laers het hulle met vuur verbrand

11. en al die roof geneem en al die buit, mense en diere.

12. Daarna het hulle die gevangenes en die buit en die roof na Moses en die priester Eleásar en na die vergadering van die kinders van Israel gebring in die laer, in die vlaktes van Moab wat by die Jordaan van Jérigo is.

13. En toe Moses en die priester Eleásar en al die owerstes van die vergadering hulle buitekant die laer tegemoetgaan,

14. het Moses kwaad geword vir die aanvoerders van die leër, die owerstes oor duisend en die owerstes oor honderd wat van die veldtog af gekom het.

15. En Moses het vir hulle gesê: Het julle al die vroue laat lewe?

Lees volledige hoofstuk Númeri 31