Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 3:34-47 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. En hulle geteldes volgens die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en daarbo, was sesduisend-tweehonderd.

35. En die owerste van die familie vir die geslagte van Merári moet wees Súriël, die seun van Abihail; hulle moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die noordekant.

36. En die toesig van die seuns van Merári — wat hulle te besorg het — moet wees oor die style van die tabernakel en sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke en al die gereedskap sowel as die hele diens wat daarby behoort;

37. en die pilare van die voorhof rondom en hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne.

38. En die wat voor die tabernakel laer opslaan, aan die oostekant, voor die tent van samekoms, teen sonop, moet wees Moses en Aäron met sy seuns wat die diens van die heiligdom waarneem, naamlik die diens vir die kinders van Israel; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.

39. Al die geteldes van die Leviete wat Moses en Aäron volgens die bevel van die Here, volgens hulle geslagte getel het, almal wat manlik was, van ’n maand oud en daarbo, was twee-en-twintigduisend.

40. En die Here het aan Moses gesê: Tel al die manlike eersgeborenes van die kinders van Israel, van ’n maand oud en daarbo, en neem die getal van hulle name op.

41. En jy moet vir My — Ek is die Here — die Leviete neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die vee van die kinders van Israel.

42. En Moses het, soos die Here hom beveel het, al die eersgeborenes onder die kinders van Israel getel.

43. En al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van ’n maand oud en daarbo, volgens hulle geteldes, was twee-en-twintigduisend-tweehonderd-drie-en-sewentig.

44. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

45. Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee, sodat die Leviete myne kan wees. Ek is die Here.

46. Wat aangaan die loskoping van die tweehonderd-drie-en-sewentig wat oor is bo die Leviete, uit die eersgeborenes van die kinders van Israel,

47. moet jy per hoof vyf sikkels neem; volgens die sikkel van die heiligdom moet jy dit neem; die sikkel is twintig gera.

Lees volledige hoofstuk Númeri 3