Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 24:5-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!

6. Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ’n rivier, soos alewees wat die Here geplant het, soos seders by die water.

7. Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!

8. God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ’n buffel; hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy pyle verbrysel.

9. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!

10. Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën!

11. Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die Here het jou van verering teruggehou.

12. Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy na my gestuur het, gespreek en gesê nie:

13. Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die Here nie oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat die Here spreek, dit sal ek spreek.

14. En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.

Lees volledige hoofstuk Númeri 24