Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 23:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ’n ander plek vanwaar jy hom kan sien — net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie — en vervloek hom daarvandaan vir my.

14. En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en sewe altare gebou en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.

15. Toe sê hy vir Balak: Bly hier staan by jou brandoffer, en ek sal daar op ’n ontmoeting wag.

16. En die Here het Bíleam ontmoet en ’n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.

17. En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het die Here gespreek?

18. Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op, Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!

19. God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

20. Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.

21. ’n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. Die Here sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.

22. God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ’n buffel.

23. Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.

24. Kyk, ’n volk wat opstaan soos ’n leeuin, en soos ’n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.

25. Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle glad nie seën nie.

26. Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie: Alles wat die Here spreek, dit sal ek doen?

27. Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na ’n ander plek saamneem; miskien sal dit reg wees in die oë van God dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.

28. Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk.

29. Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.

Lees volledige hoofstuk Númeri 23