Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 22:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.

8. Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die Here aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.

9. En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?

10. En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet:

11. Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe.

12. Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.

13. Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want die Here het geweier om my saam met julle te laat gaan.

14. En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.

15. Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander;

16. en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie.

17. Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my.

18. Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die Here my God nie oortree om klein of groot te doen nie.

19. Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat die Here verder aan my sal sê.

20. En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen.

21. Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab.

Lees volledige hoofstuk Númeri 22