Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 16:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die Here se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,

10. en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou — dat julle nou ook die priesteramp begeer?

11. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?

12. En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.

13. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?

14. Ook het jy ons nie gebring in ’n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.

15. Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die Here gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.

16. Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die Here is, jy en hulle en Aäron.

17. En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die Here elkeen sy vuurpan, tweehonderd-en-vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.

18. Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.

19. En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan die hele vergadering.

20. En die Here het met Moses en Aäron gespreek en gesê:

21. Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in ’n oomblik verteer.

22. Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?

23. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

Lees volledige hoofstuk Númeri 16