Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 16:27-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.

28. Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:

29. as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die Here verag het.

31. En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,

32. en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.

33. So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.

34. En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!

Lees volledige hoofstuk Númeri 16